
Verkleurmannetjies of trapsuutjies is van die interessantste reptiele op aarde. Hulle pote is spesiaal aangepas om aan takkies vas te klou met twee versmelte tone aan die een deel en drie versmelte tone aan die ander deel van die poot.
Hulle kan hulle sterte gebruik om aan takkies vas te klou.
Die oë van 'n verkleurmannetjie kan terselfdertyd in verskillende rigtings draai en hulle omgewing vir prooi en vyande deursoek. Die prooi, gewoonlik 'n insek, word blitsvinning met die lang taai tong opgeraap en ingesluk. Verkleurmannetjies moet ook stadig beweeg om sodoende naby hulle prooi te kan kom voor hulle kan wegvlieg - vandaar die naam Trapsuutjies.
Verkleurmannetjies, soos mens van hul naam kan aflei, kan ook van kleur verander. Gewoonlik gebuik hulle hierdie vermoë as kamoeflering om by hulle omgewing aan te pas en die kleure wissel gewoonlik van groen, na buin, na vaal. In sommige spesies het die mannetjies bont patrone wat pers, geel en blou insluit. Soms wissel die kleur volgens die gemoedstoestand van die verkleurmannetjie en kan hulle selfs pikswart word as hulle bedreig word.
Verkleurmannetjies is egter nie die enigste reptiele wat van velkleur kan verander nie - daar is verskeie ander reptielspesies waar die mannetjie tydens die paarseisoen helder kleure ontwikkel en ook volgens hulle gemoedstoestand van kleur kan verander.
Die verkleurmannetjie op die foto is in Thabazimbi afgeneem. Inheemse verkleurmannetjies, soos alle ander Suid-Afrikaanse reptiele is beskerm deur wetgewing en mag nie aangehou, verkoop of gedood word nie.